Tuesday, February 13, 2007

Eie persepsies

Die ENB debakel wys vir ons die gesig van die regerende party vanuit ‘n heel ander hoek.

Die mees gerespekteerde hoek is die ekonomiese sukses wat die M-trio: president Mbeki,, minister Trevor Manuel en mnr Tito Mboweni reeds vermag het. Verskaffing van dienste en werkskepping om die ongelykhede van apartheid te verminder is redelik, maar die bekendste hoek is die een van leë beloftes en idiotiese verskonings. Dit is hierdie laaste hoek wat reeds onooglik is wat verder met ‘n diep lidteken geskend is. Die regering is bereid om sy mag te laat geld om sy swakhede te verberg.

Vraag is, tot watter mate het die president se staatsrede die ENB veldtog irrelevant gemaak? Baie mooi dinge is belowe, soos meer polisie met beter opleiding en hoër salarisse, maar . . .
Ek weet dat ek steeds goeie diens vanaf die polisie ontvang, maar ek weet ook dat daar mense is wat in vrees vir die polisie leef en hulle is nie kriminele nie. Self vertrou ek bitter min van die polisie lede, wit sowel as swart. Meer polisie gaan nie die probleem van vertroue oplos nie.
Ek weet die polisie, met uitsluiting van die paar topposte, behoort meer geld te verdien maar ek weet ook dat sulke verhogings net ‘n verskil sal maak as dit wesenlik is. Selfs 10% is in meeste gevalle nie wesenlik nie.
Terwyl gerugte oor uiterste interne politiek binne die polisie gereeld uitlek, gaan meer polisie nie ‘n verskil maak nie.
Terwyl werksekerheid en bevordering nie vir sekere lede bestaan nie sal om geld na die probleem te gooi geen verskil maak nie.

Die grootste aanduiding was die president se stemtoon. Weg is die sterk toon waarmee hy in vorige redes Afrika se hoop verkondig het en in is ‘n eentonige aflees van erkennings en beloftes. Waar is die passie in sy stem wat ons hom sal laat glo?

Ek vra ENB, PSG, Remgro, Solidariteit om nie op te hou om oplossings na te jaag nie. Miskien moet ENB nou van taktiek verander maar moet nie laat los nie.

My bydra is dat ons op voetsoolvlak ‘n morele rewolusie organiseer, maar een wat algemeen aanvaarbaar kan wees en nie ou skeidslyne net herdefinieer nie.

Idiotiese verskonings is nie redes nie.
Die regeerders en hulle arm vir misdaad bestryding en geregtigheid weerkaats graag ons bekommernisse oor midaad terug deur van speëls gebruik te maak.
1. Dit is omdat mense arm is! Die skelms is dan seker moderne weergawes van Robin Hood's, helde wat hulle vryheid op die spel plaas om hulle gemeenskappe meer gelyk te maak. Die wat mildelik besit moet nou hulself in die spieël eien, skuldig voel en ophou kla. Bog. Hierdie windeier laat drie vrae onbeantwoord.
Hoekom is diefstal en geweld minder in ander arm lande, selfs in Afrika? As jy steel omdat jy arm is hoekom moor jy dan ook? Hoekom wil die regering nou die verantwoordelikheid na die skelm se familie toe afwentel as dit juis hulle is wat in hulle armoede by die seun se onbaatsugtige steel baat?
2. Skep werk en hulle sal nie steel nie! Bog. As jy sleg is van inbors gaan jy steel en veral as die regering wit handskoene dra as hulle jou moet vasvat. Selfs groot ekonomië het hulle diewe. ‘n Skelm soek nie ‘n uur se sweet vir ‘n uur se loon nie.
3. Dit is apartheid se skuld! Hoe?

Lys van menseregte skendings
Ons sien gereeld dat iemand skendings van ons regte lys, maar wat van die een: Om voortdurend paraat te wees is om in voortdurende ongesonde spanning te leef.
Bloot die gedagte dat iemand jou gaan aanval en dat die aanvaller dalk aan jou hand sal moet sterf is vir geestelik gesonde mense sielkundig uitmergelend en maak ons depressief.

No comments: